Wat is suksesvolle finansiële en boedelbeplanning

 Ek het die geleentheid gekry om Finansiële artikels van nou af per geleentheid in die Swartlander te plaas. Die eerste vraag wat ons onsself kan afvra is: “Wat is suksesvolle Finansiële- en Boedelbeplanning?“ 

Na my mening sal ek dit graag wil definieer dat dit ‘n natuurlike persoon se hele vermoë met die daarbybehorende regte en verpligtinge is. Nou ja, nou wat sluit dit alles in en ek gaan dit omvattend probeer erduidelik. 

Deur Finansiële Beplanning kan Beleggings en Risiko’s geevalueer word om binne die wettige belastingraamwerk en ander wette jou finansiële posisie te verbeter. Strenger wetgewing en baie beter monitering deur SARS veroorsaak dat vooruitbeplanning al hoe belangriker word. Dit is dus belangrik om dit wat soos struikelblokke lyk, aan te wend tot jou eie voordeel en op die end die soet smaak van sukses te ervaar na behoorlike vooruitbeplanning. Deur geduld te beoefen met ’n goed beplande belegging strategie word meesal as die suksesresep aanvaar. 

Sekere mense het meer dryfkrag en is meer bereid om te beplan as andere, en dit het veroorsaak dat hulle meer besittings bymekaar gemaak het as ander. Niemand wil hul besittings verloor nie en dit is waar Finansiële en of Boedelbeplanning inkom, om eerder alle middele tot hul beskikking te gebruik om hul besittings uit te brei en te vermeerder. 

Ons wat ekonomies aktief is, moet belasting betaal en ons moet beplan aangesien ons eendag wil ophou werk en ons besittings geniet. Minder as 5% van alle mense kan dit egter bekostig om heeltemal sonder sorge af te tree en net hul besittings te geniet en dit is die 5% wat daarvoor beplan het. 

Finansiële Beplanning behoort dus ten minste jaarliks hersien te word, waarom nie op dieselfde tyd as wanneer u belasting opgemaak word nie. 

Ek gaan in die toekoms skryf oor Boedelbeplanning en likiditeit, versorging van u afhanklikes by afsterwe, ongeskiktheid en gevreesde siektes, afkoop- en vervroegde aftree boetes op polisse en hoe om hierdie boetes te vermy, hoe om ’n veilige belegging te kies, batebestuur, effektetrusts, aandele, eiendom, aftreebeplanning, koop-en-verkoop ooreenkomste, sleutelpersoon versekering, trusts, testamente, belasting, ens. 

Die gemiddelde manspersoon leef sowat 5 jaar minder as die gemiddelde dame, en dit gebeur dan ook in die meeste gevalle dat dames hul gades oorleef. Dames speel ook vandag ’n heelwat groter rol in die ekonomie as ’n dekade en meer gelede. Daarom is dit ook vandag net so belangrik vir dames om na hul Finansiële welstand om te sien as vir mans. 

Indien u as leser enige onderwerp in gedagte het waaroor u meer inligting verlang, is u welkom om ons daarvan in kennis te stel. Ek sal by geleentheid dan daaroor berig.