Ek kry so baie die vraag oor die bereidwilligheid en wanneer om te begin spaar. Wanneer is die regte tyd om te begin of op watter ouderdom moet jy begin spaar? Die antwoord is altyd gister, maar dit gaan nie werk nie, die tweede antwoord is vandag wat haalbaar is en die slegste is as jy hoor die persoon wil net die of dat doen en dan wil hy begin, maar laasgenoemde persoon is meesal besig om hom of haarself te bluf.
Jy moet begin spaar, indien moontlik van kindsbeen af en daarmee volhou totdat jy die dag wil aftree, en selfs dan is dit belangrik dat jy steeds spaar.
Wat gebeur in die praktyk:
Die mees algemene probleem is uitstel om te begin spaar, gaan vra gerus vir oupa en ouma en ook vir pappa en mamma, hulle sal almal vir jou sê hulle moes vroeër begin spaar het en meer gespaar het.
Dan is dit ongelooflik hoe min mense besef dat hulle hul spaargeld uit hul ondernemings of besighede moet hou. So baie kliënte kom vertel ook hoeveel meer wins hulle kan maak deur hulle spaargeld in een of ander sake transaksie te belê eerder as om dit in hul beleggings te laat. Hierdie is hoofsaaklik mense wat met hulle besighede moet voortgaan tot die dag van hul afsterwe of om die besighede oor te dra na hulle kinders en dan so ‘n passiewe las op hulle kinders laat om verder vir hulle te sorg.
Terwyl ons jonger is, glo ons ook dan dat ons gesondheid nooit sal agter uitgaan nie en dat ons altyd in die posisie sal bly om die vereistes wat ons ondernemings aan ons stel, sal kan volhou. Die realiteit is dat ons almal graag die een of ander tyd in ‘n posisie wil kom om na jare se harde werk, ons lewens sorgeloos te kan geniet.
Ek gaan vier berekeninge doen vir mense wat op ouderdom 65 wil aftree, naamlik ‘n 25 jarige, ‘n 35 jarige, ‘n 45 jarige en ‘n 55 jarige persoon. Kom ons kyk wat gebeur as elkeen met R1 000 per maand, begin en hul bydraes elke jaar met 7% verhoog (ek gebruik 7% want dit is min of meer waarmee salarisse jaarliks verhoog).
Jy sal sien dat tyd en saamgestelde rente, jou spaarpoging baie meer bekostigbaar maak.
Ek het ook uitgewerk hoeveel keer die kapitale opbrengs op ouderdom 65 meer is as die premies in totaal wat belê is, en dit is duidelik hoe vroeër jy begin spaar hoe goedkoper gaan dit wees om te kan aftree.
Die inkomste tabel vir elk is uitgewerk op 5% per jaar wat elke jaar met verbruikersprys indeks kan toeneem sodat die kapitaal nie uitgeput raak nie.
Kom ons bereken dan ook hoeveel ‘n 35, 45 en 55 jarige persoon maandeliks moet spaar en elke jaar die bydrae met 7% verhoog om dieselfde opbrengs te ontvang as wat die persoon wat op 25 jarige ouderdom begin spaar het, dus die eindoelwit is dan om R18 008 968 te spaar oor 30, 20 en 10 jaar onderskeidelik.
Bogenoemde illustreer dan baie duidelik dat die beste tyd om te begin spaar so gou as moontlik is. Hoe vinniger ons dus werk begin maak om doelgerig te begin spaar en die spaargeld weg te hou van saketransaksies, hoe beter. Daar moet dus verkieslik ander fondse of geld gebruik word vir besigheids transaksies, verkieslik die banke s’n, daar is verskeie belastingvoordele daarin indien dit korrek gedoen word, en is goedkoper op die lang termyn.