In die vorige artikel het ek geskryf oor swak waardes en boetes op Uittree-Annuïteite en Uitkeerpolisse. U weet boetes word gehef aangesien Lewensversekeraars redeneer dat kliënte ‘n kontrak oor ‘n termyn met hulle aangaan en indien die kontrak nie eerbiedig word nie, word die belegger beboet. Daar word gereeld genoem dat die kostes die kommissie van die tussengangers is, maar in werklikheid is dit slegs sowat ‘n derde van al die kostes wat verhaal word. Die lewensversekeraars verhaal afhangende van die ouderdom van die produk kommissie terug vanaf die tussengangers asook alle kostes op die kontrak as of die kontrak sy hele termyn uitgedien het.
Met Effektetrusts word kostes verhaal soos en wanneer bydraes ontvang word en indien die belegger sy bydraes staak, is daar dus geen boetes betaalbaar nie. Die beleggingsrekening, afkoopwaarde en vervroegde aftree-waardes is dus te alle tye dieselfde.
Daar bestaan twee tipes beleggings, naamlik die wat Diskresionêr (vrywillig) van aard is en die wat val onder die Wet op Pensioenfondse. Daar word ook in die mark gepraat van belasbare en nie-belasbare portefeuljes. Die wat val onder die Wet op Pensioenfondse is Pensoenfondse, Voorsorgfondse, Bewaringsfondse en Uittree-Annuïteite. Alle ander beleggings soos Uitkeerpolisse, ens. val onder die kategorie Diskresionêre beleggings.
Elke tipe belegging, hetsy die wat val onder die Wet op Pensioenfondse of Uitkeerpolisse (terloops dit kan ook effektetrust wees) of slegs gewone effektetrust beleggings het elkeen sy wetlike voor- en nadele en uit die aard van die saak moet daar seker gemaak word dat die regte voordele of belegging na gelang van behoefte vir die kliënt aangebied word.
Effektetrusts kan gebruik word vir beleggings in Pensioenfondse en vir Diskresionêre beleggings, dit dek ook die hele spektrum van die mark en sluit alle bateklasse waarin ‘n voornemende belegger wil belê, in. Met ander woorde jy kan met een belegging in geldmarkfondse, inkomstefondse, staatseffektefondse, eiendomsfondse, aandelefondse, ens. gelyktydig belê en so likied wees dat jy ter eniger tyd van fonds kan verskuif om vir veranderde beleggingsomstandighede voorsiening te maak, sonder om boetes te betaal.
Belegging is in der waarheid baie eenvoudig, dit gaan oor die kliënt se doelwit met die belegging en ook oor die termyn waarvoor die belegger bereid is om die fondse te belê.
Ongelukkig hou beleggers daarvan om te alle tye gerusgestel te wees met hul beleggings en koop graag in op fondse wat hulle hoor goed doen en verkoop bitter graag die wat hulle hoor doen swak. Die telefoon wat die stories vertel is ongelukkig meesal stadig en gewoonlik is so ‘n belegger te laat om die goed doen te ervaar en te negatief om die swak doen deur te sien. Dit is dan ook wanneer langtermyn beleggings vinnig opgevra word. Hierdie is dan die belegger soos ‘n fondsbestuurder dit die ander dag beskryf: “Jy kry twee soorte aggressiewe beleggers, die een wat aggressief wil belê as hy hoor die belegging of mark doen goed en die ander wat aggressief optree wanneer hy die bus gemis het”.
Daar is sowat 760 verskillende effektetrustfondse vandag op die mark en met die volgende artikel of twee wil ek graag verduidelik waarom effektetrusts veilig is, hoe die regte fondse gekies kan word en wat die belastingimplikasie van elke tipe belegging is.