Ek het op 30 Maart 2005 ‘n artikel in die Sakeburger geplaas spesiefiek oor swak waardes op versekeringspolisse. Indien u ‘n afskrif verlang, kan u dit aanvra by my kantoor. Na aanleiding van die druk wat die Minister van Finansies en Nasionale Tesourie op lewensversekeraars geplaas het, het die LOA (Vereniging van Lewensversekeraars) besluit dat polisse waar kliënte met vervroegde aftrede gegaan het en of premies verminder en of gestaak is na 1 Januarie 2001 se waardes aagepas gaan word tot 65% en in sekere gevalle tot 70% van die inbetaalde premies.
Alle hulp is altyd welkom, maar dit is egter nog steeds nie in enige belegger se belang om versekeraars met hierdie produkte te ondersteun nie. Ek het by vier lewensversekeraars navraag gedoen oor my eie uittree-annuïteit en polis waardes, en veral by twee van hulle is vae niksseggende antwoorde gekry na herhaalde navrae. Een maatskappy het sowat twee maande later eers geantwoord, maar ten minste die antwoord verskaf waarvoor ek in die eerste plek gevra het. Die volgende het gebeur:
Ek het bydraes van R300 per maand gemaak vanaf 1/11/1998 tot en met 01/07/1999 waarna dit verhoog is na R500 vanaf 1/8/1999 tot 01/9/1999, waarna een premie van R1500 afgaan vir 01/10/1999 en vanaf 1/11/1999 tot en met 01/10/2000 dra ek R1605 per maand by waarna die premie verhoog vanaf 01/11/2000 na R2500 per maand 01/07/2001. Vanaf 01/08/2001 verlaag ek die premie na R1000 per maand, en R30 733.75 word as koste verhaal deur die maatskappy. Op 1/12/2002 maak ek my laaste bydrae van R1000, waarna ‘n verdere kosteverhaling van R18 286.45 plaasvind.
Ek het dus bydrae ter waarde van R63 960 gemaak en R52 559.87 se kostes is verhaal en my beleggingsaldo op 1/4/2007 was R10 333.45 na 8 jaar en 6 maande. Swart op wit op die versekeraar se briefhoof gedateer 22 Maart 2007, en amper 5 jaar nadat ek dit aanvanklik versoek het.
Sowat 4 jaar gelede het ek en enkele van my mede Finansiële Beplanners besluit tot hiertoe en nie verder nie en ons het effektetrust fondse begin gebruik as beleggingsvoertuig. Lae risiko fondse soos stabiele en gebalanseerde bate geallokeerde fondse word gebruik en die gebalanseerde fondse het opbrengste van sowat 25% per jaar en meer gelewer terwyl die stabiele portefeulje sowat 15% per jaar en meer gelewer het sedert April 2003. Indien ek toegelaat sou wees om my UA (die R63 960) vanaf April 2003 tot en met April 2007 in hierdie gebalanseerde portefeulje te kon plaas, sou ek nou sowat R156 152.34 gehad het in die spesifieke portefeulje sonder dat ek enige verdere bydraes gemaak het.
Om op te som die volgende:
1. U kan u bestaande UA’s oordra na ‘n ander UA voordat u 55 jaar bereik, om sodoende beter opbrengste te verdien en veral goedkoper kostestrukture te geniet.
2. Indien u dit na die regte plek oordra, sal u nooit weer vervroegde aftrede boetes, premievermindering – of premiestaking boetes hoef te betaal nie.
3. U kan kwartaallikse vorderingsverslae verwag.
4. Effektetrust word beskerm deur die Wet op Kollektiewe Beleggingsskemas en is heeltemal veilig.
5. Enige van bogenoemde dokumente is beskikbaar indien u afskrifte verlang.