Risikoprofiel of beleggingsmandaat

 Hierdie week wil ek graag ‘n paar idees met u deel oor ‘n strooihalm in die beleggingsbedryf met die naam risikoprofiel. Ek noem dit ‘n strooihalm, omdat dit in die tradisionele vorm bykans van geen nut is nie. Sedert die koms van die Wet op Advies en Tussengangersdienste op 1 Oktober 2004 word daar voortdurend na die belangrikheid van ‘n risikoprofielvraelys verwys. 

Daar word in risikoprofielvraelyste klem gelê op vrae wat onder andere die volgende insluit: 

1. Die ouderdom en die gesondheid van die kliënt 

2. Hoe bekend die kliënt met beleggingsmarkte is en oor watter ondervinding in die beleggingsomgewing hy of sy beskik 

3. Hoeveel afhanklikes die kliënt het en hoe riskant beskou die kliënt hom of haarself 

Een van die min sinvolle vrae wat gevra word is vir hoe lank die kliënt bereid is om die fondse te belê. 

Na gelang van bogenoemde vrae word daar dan besluit watter persentasie van die kliënt se belegging in Kontant, Staatseffekte, Eiendom, Aandele, ensovoorts belê moet word. Aandele word dan beskou as hoë risiko en kontant as lae risiko en die probleem is dat die geskiedenis ons al oor en oor geleer het dat die omgekeerde eintlik nader aan die waarheid is, aangesien aandele nie noodwendig hoë risiko en kontant lae risiko verteenwoordig nie. 

Ek wil graag 10 eenvoudige reëls wat voornemende beleggers kan volg aan u voorhou: 

1. Stel duidelike doelwitte saam met u Finansiële Beplanner – indien u geen doel het wat u beleggingstrategie kan stuur nie, moenie belê nie 

2. Kry u finansies in orde – indien u voel u sink weg tussen al u uitstaande rekeninge en laste, kry dit eers in orde voordat u belê. 

3. Bevraagteken bemagtiging – opleiding oor die onderwerp finansies is belangrik. Daar is soveel skandale in terme van onwettige sakepraktyke. 

4. Moenie die skape volg nie – wanneer mense motors koop soek hulle die beste waarde vir geld, wanneer mense belê koop hulle teen die prys wat klaar gestyg het. Ontleed die situasie vir uself en bespreek dit met u adviseur. 

5. Wees nederig – te veel selfvertroue lei dikwels tot onnodige verhandelinge, onnodige risiko en uiteindelik tot ‘n verlies wanneer die markte daal. 

6. Wees geduldig – as die markte daal is daar altyd die wat paniekerig raak en verkoop. Dit is net ‘n bult, ry daaroor. 

7. Wys vertroue – daar word geskryf dat die pyn van ‘n verlies twee keer so sterk gevoel word as die plesier van ‘n wins. Vir sommige mense veroorsaak dit die ontydige onttrekking uit die mark. 

8. Moenie u belegging voortdurend dophou nie – U moet u adviseur vertrou aangesien elke keer dat u wysigings wil aanbring kan dit fooie teweegbring. 

9. Moenie risiko verwerp of alles in risiko plaas nie – moenie alles wat u het in hoë risiko portefeuljes plaas nie, maar terselfdertyd moet u ook nie alles in kontantbeleggings plaas nie. (U maak 100% seker dat u gaan verarm indien u al u beleggings in kontant hou.) 

10. Moenie hero’s van mense maak nie – kyk na wat vir u aangebied word en wees oordeelkundig in u besluitneming. Dit gebeur baie dat mense hulle laat ly deur boek of advertensie titels waar die woord rykdom vryelik voorkom. 

Die aangewese roete om verder te volg is om skriftelik met u Finansiële Beplanner ‘n ooreenkoms aan te gaan waarin veral die tydsverloop van die belegging, die likiditeit van die belegging en die kommunikasie en terugvoering aan u met u gestipuleer word in die vorm van ‘n beleggingsmandaat. U kan gelukkig wees en oor ‘n kort tydsverloop ‘n goeie opbrengs ontvang, maar met baie minder risiko kan u ‘n goeie opbrengs oor die lang termyn verwag. 

Om bogenoemde te illustreer: ‘n Persoon wat op 31 Januarie 1978 R10 000 in ‘n algemene aandele fonds belê het, sou indien hy of sy nooit aan die belegging geraak of verander het nie, op 31 Januarie 2007, R33,5 Miljoen gehad het, ‘n opbrengs van 32,3% per jaar en min of meer wat die indeks vir alle aandele op die JSE gedoen het oor die ooreenstemmende tydperk.