Ek ontvang so dikwels die volgende vraag van kliënte dat ek dit goedgedink het om hierdie dokument op te stel om die aangeleentheid uit te klaar. Daar bestaan ongelukkig geen alternatief hiervoor nie aangesien ek die afgelope 31 jaar nog nooit ervaar het dat die verlies opgemaak is oor die oorspronklike termyn deur ‘n normale spaarpoging vanaf datum wat die fondse onttrek is nie. Vir die doel van die oefening gebruik ek standaard syfers om te illustreer.
Inligting van die kliënt: Ek het R500 000 in my aftreefonds opgebou deur my maatskappy se aftreefonds. Ek beplan om die maatskappy nou te verlaat, m.a.w. ek het bedank. Ek is 35 jaar oud en wil aftree op ouderdom 65.
Die vraag: Ek wil ‘n nuwe besigheid begin, of ek wil my verband af betaal of ek wil my uitstaande skuld verminder of afbetaal. Ek sal dit weer opmaak, aangesien ek nog genoeg tyd het tot en met ouderdom 65. Dit klink baie bekend, nie waar nie?
Verdere feite: Ek gaan nou R30 000 per maand verdien en beplan om voort te gaan om 15% van my inkomste (R4 500) per maand by te dra tot my aftrede met ‘n jaarlikse verhoging van 7%.
Vir die doel van die oefening doen ek 3 berekeninge, die eerste een om te illustreer wat my posisie sal wees as ek die R500 000 plus die R4 500 per maand wat jaarliks met 7% (verwagte jaarlikse salarisverhoging) verhoog, belê.
Die tweede berekening word gedoen met die veronderstelling dat ek die R500 000 nou gebruik en slegs met die R4 500 per maand voortgaan met die jaarlikse verhoging van 7% in bydraes.
Die derde berekening word gedoen om te bepaal hoeveel ek nou maandeliks addisioneel moet bydra om die huidige waarde van R500 000 oor 30 jaar ( ouderdom 65) te vervang, gegewe dat die bydraes ook met 7% per jaar sal toeneem.
Die aftreekapitaal is 35.80% minder as wat dit sou wees.
Die skrikwekkendste deel van die oefening is dat dit my R3 086 147.24 in toekomstige bydraes gaan kos om op te maak vir die R500 000 wat ek nou neem.
Die beter keuse sal dus ongetwyfeld wees om skuld en spaargeld heeltemal van mekaar te skei en altyd daarna te streef om nooit spaargeld te gebruik om skuld af te los nie. Mense maak dit nie op deur gewone bydraes vir spaar nie.
Dit bring ons by ‘n baie belangrike vraag oor aftreespaargeld in Suid-Afrika:
Moet Suid-Afrikaners steeds toegelaat word om hul aftreespaargeld te gebruik voordat hulle werklik aftree?