‘n Testament is nie net ‘n brief nie

 Ek sit verlede Sondag in die kerk en luister na Ds. Jannie Ferreira se boodskap oor ‘n ouer wat aan sy drie seuns 17 kamele nalaat. Die oudste seun moes volgens sy testament een helfte ontvang, die tweede een derde en die derde seun een negende. Die manne was redelik verward want hoe deel mens so ‘n erfporsie sonder om (‘n) kameel(le) af te slag of te verkoop. Dit was vir my so ‘n tipiese voorval wat elke dag nog in ‘n testament voorkom. Uit die aard van die saak is dit baie meer ingewikkeld vandag as wat dit in die Bybelse tye die geval was. 

‘n Testament is slegs ‘n wens wat by die afsterwe van ‘n persoon bepaal wat met die bates van daardie persoon moet gebeur. ‘n Tipiese voorbeeld is die van ‘n getroude paar met twee kinders wat oor ‘n huis, twee motors, meubels, beleggings en heel moontlik ‘n verband op die huis, huurkope op die voertuie en ‘n oortrokke fasiliteit in sekere gevalle beskik. Die heel eerste wat uit die aard van die saak gebeur indien een van die getroude paar te sterwe kom is dat daardie persoon begrawe moet word en daarna word die boedel beredder. 

Die eksekuteur meld die boedel aan by die Meester van die Hoër Hof en sodra die eksekuteursbrief ontvang is volg daar ‘n proses van administrasie. Die Boedelrekening word geopen, alle kontant en polisse word inbetaal en dan word al die laste (verbande, huurkope, oortrokke fasiliteite,ens.), hetsy gesamentlik of afsonderlik van beide gades asook borgstellings deur die krediteure versoek om vereffen te word. Verder moet eksekuteursfooie, Meestergelde, advertensiekostes, waardasiekostes, oordragkostes, rekenkundige kostes, moontlike boedelbelasting, uitstaande inkomstebelasting, ensovoorts betaal word. Indien daar dus genoeg kontant is of in die vorm van beleggings, bankrekeninge en polisse is daar dus geen probleem nie. 

Die probleem is egter dat indien daar nie genoeg kontant is om hierdie kostes te vereffen nie, moet die bates verkoop word, heel waarskynlik op ‘n veiling om alle uitgawes te kan dek. 

‘n Ander euwel, en verskoon my dat ek dit so noem, is ‘n vruggebruik. Dit gebeur in baie gevalle dat ‘n seun byvoorbeeld pa se plaas erf maar ma het ‘n vruggebruik van byvoorbeeld die woonhuis op die plaas en sy moet ‘n inkomste kry van seun vir solank sy lewe. Pa het vergeet dat seun ook kan trou en dat ma en skoondogter mekaar nie in dieselfde huis kan verdra nie. Pa het dalk ook vergeet dat daar droë jare is en dat dit somtyds vir seun moeilik gaan wees om vir ma ook ‘n inkomste te betaal, want wat van seun se vrou en kinders. Na ‘n tyd besluit ma om haar liewers elders te gaan vestig en kry eerder self swaar as om verdere onnodige finansiële druk op seun en kleinkinders te plaas. 

Dit is belangrik om beleggings te diversifiseer sodat alle bateklasse gedek word om te alle tye aan onverwagte veranderinge in lewensomstandighede en likiditeitsbehoeftes te voldoen. Kontant is die maklikste verdeelbare bate en ‘n lewenspolis is slegs nodig indien daar nie genoeg kontant is nie of in die geval waar u verkies dat u kontant eerder vir ‘n ander doel aangewend word na u afsterwe. 

Dit is ongelukkig so dat ‘n boedel met genoeg kontant die vinnigste en eenvoudigste is om af te handel en die minste probleme onder erfgename veroorsaak. Dit is egter waar strukture ook inkom, hier praat ons van Trusts, Koop-en-Verkoop kontrakte, Maatskappye, Beslote Korporasies, ens. 

‘n Testament is dus nie net ‘n brief nie maar wel ’n goed deurdunkte Finansiële Beplanningsproses wat ten minste jaarliks hersien moet word.