Bykans alles wat ons vandag koop, bied oneindige keuses, so ook met lewensdekking, ongeskiktheidsversekering en dekking vir gevreesde siektes. Die volgende punte behoort egter aan u ‘n riglyn te verskaf met u besluitneming tydens die uitneem van hierdie versekering.
Ek raak elke punt net kortliks aan om sekere punte uit te wys en dit is nie noodwendig op jou polisse van toepassing nie.
1. Prys / premies en terugbetaalbare bonusse.
Die premie vir versekering word bepaal deur die risiko poel (almal wat die versekering uitneem en die premies betaal gemeet teen die moontlikhede van eise daarteen). Dit is tog wat versekering in die eerste plek daargestel het. Indien ‘n maatskappy bonusse of ‘n deel van premies terugbetaal na seker periodes, vra hulle in die eerste plek of te veel vir die versekering of hulle bied dalk nie noodwendig dieselfde kwaliteit dekking nie. Geld val nie uit die lug uit nie.
2. Premiepatrone: Gelykblywend of Verpligte Groei
Gestel jy neem ‘n polis uit om jou lewe te verseker vir R1 000 000. Jy kan as voorbeeld kies om R600 per maand te betaal, maar die premie moet jaarliks verhoog met 10% om die dekking van R1 000 000 te behou, of jy kan ‘n premie van R1 000 per maand betaal wat onveranderd bly solank as wat jy die polis het. Oor ‘n periode van 30 jaar gaan eersgenoemde jou R1 184 356.96 aan premies en laasgenoemde jou R360 000 kos, dus R824 000 meer as wat eerder aangewend kon word vir ‘n beter aftrede.
3. Gelykblywende premies met vrywillige jaarlikse verhogings
Indien jy ‘n volledige finansiële beplanning doen, sodat al jou laste afgelos sal word indien jy te sterwe kom, dat jy genoeg voorsiening gemaak het vir studies vir kinders, ‘n noodfonds, moontlike voertuie, ens en om ‘n aanvaarbare inkomste en mediese premies vir jou familie na te laat, hoef jou lewensdekking nie te groei nie, ook nie jou premie nie, want hoe ouer jy raak, hoe minder lewensdekking benodig jy om daardie finansiële uitgawes na te kom.
Indien jy egter besluit om die premie vrywilliglik jaarliks te verhoog sodat jou dekking ook verhoog, kan jy steeds die verhoging in premies stop en jou dekking bly dan onveranderd. Indien jy dit egter so doen en versoek dat jou dekking met 7% verhoog, gaan die maatskappye meestal jou premie met 10% verhoog. Hoekom, het ek na 24 jaar nog nie die antwoord voor gekry nie. Gestel dus jou premie begin by R1 000, dit verhoog jaarliks met 10% (R1 973 928.27 se premies betaalbaar oor 30 jaar) en jou dekking verhoog net met 7% (R1 133 529.44 waarde van die dekking se premies betaalbaar oor 30 jaar), dan is daar 3% se verhogings jaarliks oor 30 jaar van R840 398.84 (1 973 928.27 min R1 133 529.44) waarvoor die waarde van bevraagteken word.
4. Verlies aan aftreevoorsiening as gevolg van verkeerde keuses van premiepatrone
Uit die voorbeelde van paragraaf 2 en 3 is dit dus baie duidelik dat die korrekte keuses ‘n astronomiese verskil kan maak aan fondse wat jy eerder kon gespaar het vir aftrede, onthou die bedrae is die fisiese aftree belegging wat u ekstra sou kon maak en geen rente of opbrengs is daarby in berekening gebring nie.
5. Byvoordele, losstaande versus versnellers
Lewensversekering met byvoorbeeld byvoordele soos ongeskiktheids- en gevreesde siekte dekking kan as versnellers of losstaande uitgeneem word. Gestel jy neem ‘n polis uit met R1 000 000 lewensdekking, R500 000 se ongeskiktheidsdekking en R250 000 se gevreesde siekte dekking.
As versneller: Gestel jy kry ‘n beroerte, dan sal die maatskappy aan jou R250 000 as gevreesde siekte eis betaal, meesal nadat jy die siekte met 14 dae oorleef het. Jou lewensdekking verminder dan na R750 000. Indien jy dus permanent medies ongeskik sou raak as gevolg van die beroerte, mag jy dan kwalifiseer vir die R500 000 ongeskiktheidsdekking waarna jou lewensdekking dan sal verminder na R250 000.
As losstaande: Jou lewensdekking sal nie verminder indien jy die R250 000 se gevreesde siekte voordeel eis nie en ook nie indien jy die R500 000 se ongeskiktheidsvoordele eis nie. Dit sal dus steeds die volle R1 000 000 bly.
6. Waarborgtermyne
Versekeringsmaatskappye waarborg premies vir termyne van 10 en 15 jaar gewoonlik onder normale omstandighede. Ons het al van verskeie maatskappye briewe ontvang namens kliënte waar hul waarborgtermyne verstryk het en premies somtyds met tot 40% en selfs meer verhoog moes word om die dekking te kon behou, of die dekking moet afwaarts aangepas word om dieselfde premie te behou.
Daar is egter enkele maatskappye van wie af ons nog nooit so ‘n brief gesien of ontvang het nie.
7. Beroep, Roker of Nie-roker en Werk in die Buiteland
Wanneer ‘n kwotasie vir lewensversekering aangevra word, word die volgende inligting verlang:
- Jou naam en geboortedatum
- Jou inkomste per maand of jaar
- Jou kwalifikasies
- Jou beroep
- Watter persentasie van jou dag spandeer jy aan administrasie, toesighouding, fisiese werk en reis.
- Is jy ‘n roker of nie?
- Is jy werksaam in Suid Afrika?
Tydens die aansoek is daar dan nog vrae soos gevaarlike bedrywighede en mediese vrae wat voltooi moet word.
Verskeie maatskappye bied nie dekking vir sekere beroepe nie, so indien jy van beroep verander moet die maatskappy in kennis gestel word.
Rokers betaal heelwat meer vir lewensversekering as nie-rokers, indien jy ophou rook kan jy die maatskappy verwittig en hulle kan dan jou premies afwaarts aanpas. Indien jy egter ‘n nie-roker was en weer begin rook het, moet jy sekere maatskappye daarvan in kennis stel om jou dekking te behou.
Sekere maatskappye bied nie dekking nie of kan dekking opskort indien jy in sekere lande gaan werk, of dit permanent of selfs tydelik is, en dit is gewoonlik raadsaam om vooraf seker te maak indien jy in die buiteland gaan werk.
8. Kwaliteit van dekking
Maak seker wat die maatskappy by wie jy versekering koop alles dek en ook wat die polis alles dek. Baie mense koop lewensdekking wat jou net dek as jy as gevolg van ‘n ongeluk te sterwe kom of medies ongeskik raak. Daar is ook maatskappye wat polisse verkoop wat jou net dek indien jy kanker kry. Vergelyk dit met maatskappye wat dekking verskaf ongeag hoe jy te sterwe kom of watter gevreesde siekte jy opdoen.
9. Ouderdom by uitname van polis
Bykomend word lewensversekering se premies ook bepaal volgens jou ouderdom, ‘n 30 jarige persoon gaan minder vir dieselfde dekking betaal as ‘n 40 jarige persoon. Gestel jy het ‘n polis wat jy op ouderdom 30 uitgeneem het vir R1 000 000 se lewensdekking, maar nou benodig jy nog dekking van R1 000 000. Kry dan twee kwotasies, een om jou bestaande dekking op dieselfde polis aan te pas van R1 000 000 tot R2 000 000 se lewensdekking, en kry ‘n ander kwotasie om net nog R1 000 000 se lewensdekking uit te neem en vergelyk dan die totale premies van beide opsies. Baie maatskappye laat jou die 40 jarige premie op die hele R2 000 000 betaal indien jy die bestaande polis wysig.
Dieselfde geld vir ‘n polis wat ek gehad het waarvan ek R2 000 000 se dekking wou verminder na R1 000 000, die premie was ongeveer R2 100, die gewysigde kwotasie se premie was ongeveer R1 400, en nie soos ‘n mens sou aanvaar R1 050, presies die helfte nie. By navraag is ek geantwoord dat ek nou ouer was. Wees dus uiters versigtig wanneer iemand jou aanbeveel om jou bestaande polis te wysig.
10. Opsommend
Moenie lewensdekking koop sonder dat ‘n finansiële beplanning vir jou gedoen is nie en vra vir ‘n kontrole dokument waarin bogenoemde punte almal aangespreek en gemotiveer word as keuse van die maatskappy of produk wat jy koop.
Vriendelike groete