Hoe om te onderskei tussen finansiële beplanning en die bemarking van finansiële produkte

 Ek wil graag met hierdie artikel klem lê op wat om te verwag in terme van Finansiële Beplanning en gaan verder daarna as FP en na Finansiële Advies as FA verwys. Daar is so ‘n groot behoefte by die mense om FA te ontvang maar telkens eindig sulke mense op met ‘n produk wat aan hulle bemark word, en die vrae in verband met die FA word nooit beantwoord nie. Vir die doel van hierdie artikel word daar ook spesifiek op die individu gekonsentreer. 

Die behoefte aan FA ontstaan in die meeste gevalle waar mense die arbeidsmark betree, ‘n nuwe onderneming begin word, wanneer ‘n familielid of kennis te sterwe kom, ‘n kennis gestremd raak in ‘n fratsongeluk, ‘n kennis met ‘n gevreesde siekte gediagnoseer word, ens. om maar ‘n paar voorbeelde te noem. Dit is gewoonlik ‘n goeie rede om ‘n polis uit te neem, maar die polis is net soos antibiotika vir ‘n siek persoon, dit los nie die oorsaak van die siekte op nie, maar genees net dit wat op daardie stadium verkeerd is. 

Daar is baie rolspelers wat FA verskaf soos ‘n Ouditeur of ‘n Belasting Praktisyn, ‘n Prokureur, ‘n Eiendomsagent, ‘n Bankbestuurder of Verhoudingsbestuurder, Fonds- of Batebestuurders, ens. en dan ook Makelaars of Versekeringsagente. Die gehalte van die advies hang dan ook grootliks af van die kwalifikasies en ondervinding van die adviesgewer en die infrastruktuur wat gebied word om die Finansiële prosesse wat in plek gesit is gereeld te kontroleer en te monitor. 

Die persoon wat ‘n inkomste verdien benodig belastingadvies van sy ouditeur of Belasting Praktisyn om so voordelig as moontlik sy inkomste tot sy eie voordeel aan te wend, ‘n prokureur om byvoorbeeld na sy testament, voorhuwelikse kontrak en die oordrag van sy eiendomme om te sien, ‘n eiendomsagent om hom van raad te bedien met die koop en verkoop van eiendom, ‘n Bankbestuurder om na sy banksake om te sien, ‘n Fondsbestuurder om sy beleggings te laat groei en ‘n makelaar of agent waar hy polisse kan uitneem en beleggings kan doen. 

Die probleem is egter dat elke individu deur fases in sy lewe gaan en dat hierdie FA hierbo genoem jaarliks gemonitor en aangepas moet word om by die individu se veranderde omstandighede aan te pas, anders beteken die beplanning hierbo bykans niks en inteendeel, dit kan die individu se posisie meer benadeel weens die veranderde omstandighede as bevoordeel. U FP moet dus met gereelde tussenposes hersien en aangepas word, ten minste jaarliks. 

Gesertifiseerde Finansiële Beplanners (afkorting CFP®) beskik oor ‘n Na-graadse Diploma in Finansiële Beplanning wat in 44 lande wêreldwyd erken word vandag en is spesifiek opgelei om omvattende FP te doen wat belastingadvies, risikobeplanning, testament-en trustbeplanning, beleggingsbeplanning, bank- en begrotingsbestuur, korporatiewe beplanning, eiendoms transaksiebeplanning, ens. en die mees belangrikste van alles, die Finansiële versorgingsbeplanning van u en u gesin insluit en die prosesse in plek gereeld te monitor en aan te pas. 

Finansiële sukses word net bereik deur betyds professionele finansiële beplanning te laat doen, die verantwoordelikheid om dit te laat doen berus egter by die individu.