Hoe beskerm is u effektetrust beleggings

 Dit is seker een van die moeilikste keuses om te besluit waarin om te belê. Die belangrikste is om te onthou dat u in enige produk hetsy in ‘n vrywillige belegging of ‘n belegging wat resorteer onder die Wet op Pensioenfondse kan belê deur middel van effektetrusts met dieselfde wetlike voordele as die tradisionele beleggings by versekeraars, byvoorbeeld ‘n suiwer vrywillige effektetrust belegging, ‘n effekterustbelegging met dieselfde reëls as ‘n uitkeerpolis (sonder die boetes natuurlik) ‘n uittree-annuïteit, ‘n bewaringsfonds, ‘n pensioenskema, ensovoorts. 

Die voordeel is dat die kostes baie laer kan wees en dat daar geen boetes gehef word wanneer die kliënt met vervroegde aftrede gaan, premies staak of verminder nie. 

Die vraag is; “Is effektetrust ‘n veilige belegging?”. Effektetrust val onder die Wet op Kollektiewe Beleggingskemas en werk as volg en ek probeer dit so eenvoudig as moontlik verduidelik: 

1. Daar is normaalweg vyf partye behalwe die kliënt betrokke in ‘n effektetrust belegging. Hierdie vyf partye is die “Custodian”, die Trustee, die Batebestuurder, die administrateur en die Finansiële Beplanner. 

2. In Suid-Afrika is die “Custodian en Trustee hoofsaaklik een van Vyf A Plus gegradeerde Finansiële Instellings en by name is dit Absa, Standard Bank, Eerste Nasionale Bank, Nedbank en “Computershare” en hierdie twee partye word betaal deur die Batebestuurder. 

3. Elke effektetrustfonds het ‘n bankrekening wat gehou word deur die “Custodian” van daardie spesifieke fonds en die Trustee se pligte is onder andere om die opbrengs te bereken wat daagliks beskikbaar is in onder andere die pers en ook om toe te sien dat die Batebestuurder binne die geregistreerde mandaat van die fonds die fonds bestuur. Die “Custodian” en die Trustee mag ook nie dieselfde Finansiële Instelling wees nie. 

4. Die Batebestuurder bestuur die daaglikse beleggingsbesluite van die effektetrustfonds binne die mandaat wat geregistreer is by die Raad van Finansiële Dienste. 

5. Daar is op die oomblik bykans 800 geregistreerde effektetrustfondse op die mark. In plaas van om direk daarin te belê kan die kliënt deur middel van ‘n Administrateur en dus een kontrak in al daardie fondse belê en dit is dan baie goedkoper (geen duplikaat aanvangskostes) om tussen die verskillende fondse om te skakel wanneer omstandighede dit vereis. Voorbeelde van hierdie maatskappye is, Sanlam Persoonlike Portefeulje (Glazier), Fairbairn Capital (Galaxy), Momentum Wealth, Absa Investment Management Services, Stanlib, Investec, Allan Gray Investor Services, Equinox, ensovoorts. 

6. 

Bogenoemde is ‘n baie breë verduideliking maar ek wou hierdeur aan u illustreer dat u belegging in effektetrust een van die veiligste likiede beleggings vandag is. 

Die enigste risiko wat u loop met u belegging is die mandaat van u belegging en die gepaardgaande markbewegings vanaf die laagste risikofondse soos geldmarkfondse tot die hoë risiko fondse byvoorbeeld klein maatskappye fondse. Dit is hier waar risikoprofiele en beleggingsooreenkomste van kardinale belang is aangesien u Finansiële Beplanner die verantwoordelikheid het om u in die regte fondse te plaas wat ooreenstem met u beleggingsdoelwitte. 

‘n Addisionele diens wat my maatskappy bied aan ons kliënte is om ‘n afsonderlike beleggingsrekord vir elke kliënt by te hou en dan ook kwartaalliks beleggingsopbrengste aan ons kliënte te rapporteer. 

Met die volgende artikel wil ek graag meer uitbrei oor wat ‘n risikoprofiel vraelys en beleggingsmandaat is en hoe daar dan saam met die kliënt besluit word in watter fondse die kliënt se belegging geplaas moet word. 

Effektetrusts is egter nie die alfa en omega van beleggings nie en ek sal mettertyd ook oor ander tipe beleggings berig.