Haal emosies uit u beleggingsbesluite

 Ongelooflike studies is al gedoen oor die onderwerp hoe mense se emosionele besluite hul finansiële welvaart nadelig beïnvloed, veral verkeerde besluite op die verkeerde tyd. 

Ons is almal mense en dit is doodnatuurlik dat ons reageer volgens dit wat ons hoor, in die koerant lees of selfs sien. Die waarheid is egter dat die suksesvolle beleggers in sulke tye die regte besluite neem deur die geleenthede in sulke gebeurtenisse raak te sien en dan baie belangrik, aksie te neem. 

Dit is dan ook so dat elke persoon wat geleenthede sien wanneer Eskom die krag afskakel of wanneer die mark daal soos in Januarie hierdie jaar, of wanneer daar interne politieke woelinge is soos sedert die verkiesing van die nuwe president van die ANC, die persone is wat sukses ervaar. Diegene wat in sak en as gaan sit en kla, gebruik soveel energie daarvoor dat hul of vergeet of nie meer genoeg energie het om die geleenthede te benut nie. Die pyn van ‘n verlies word twee keer so erg gevoel as die plesier van ‘n wins. 

Ek wou al vir ‘n geruime tyd hieroor skryf, maar moes ongelukkig geduld gebruik en wag dat gebeur wat so pas die afgelope drie maande gebeur het om dit wat vars in ons geheue is te illustreer. Hieronder volg ‘n grafiek van die alle aandele indeks op die Johannesburgse Aandelebeurs. 

 Wat ek graag aan u wil uitlig is die volgende: 

  • Die daling wat die mark in Januarie op een spesifieke dag hierdie jaar ervaar het was groter as die daling wat die markte op die berugte 11de September gedaal het toe die vliegtuie die een na die ander in die “World Trade Centre” in New York vasgevlieg het. 
  • In die 18 jaar wat ek in hierdie bedryf is, is dit die minste kliënte wat my nog geskakel het oor hul bekommernis oor die marktoestande, en dit was presies drie persone. Dit is vir my tekenend van die tye dat beleggers meer begin verstaan waarin hul hulself begewe, want indien ons die dag na die daling 100% in geldmarkfondse inbeweeg het sou ons die 17,82% waarmee die alle aandele indeks in Februarie gestyg het totaal en al gemis het. 
  • Ons het sekere aanpassings in die portefeuljes gedoen om ‘n groter kontant blootstelling te bewerkstellig, maar om die mark toetaal en al te verlaat het as gevolg daarvan sou absoluut fataal gewees het. 

 

Ek wil dus hiermee die volgende by u laat: 

  • Deur nie emosioneel op te tree nie is die grootste deel van die verliese reeds tot op datum herwin. 
  • Geen persoon kan die markte 100% reg voorspel nie, maar ons kan die geskiedenis, sekere statistiek en markinligting gebruik om rasionele besluite te kan neem. 
  • Geen batebestuurder kan daarop roem dat hy of sy die beste presteerder is nie, want hy of sy word altyd verkeerd bewys. 
  • Slegs tyd en geduld word beloon, daar is nie beplande vinnige maniere om ryk te raak nie. 

My raad aan u is dus om ‘n Finansiële Beplanner met ‘n langtermyn plan te kies.