Ek het op 30 Maart 2005 ‘n artikel in die Sakeburger geplaas oor swak beleggingswaardes op versekeringspolisse. Indien u ‘n afskrif verlang, kan u dit aanvra by my kantoor. Na aanleiding van die druk wat die Minister van Finansies en Nasionale Tesourie op lewensversekeraars geplaas het, het die LOA (Vereniging van Lewensversekeraars) besluit dat polisse waar kliënte met vervroegde aftrede gegaan het en of premies verminder en of gestaak is na 1 Januarie 2001 se waardes aangepas gaan word tot 65% en in sekere gevalle tot 70% van die inbetaalde premies, dus nog steeds boetes. Hierdie wetgewing is nou eers sowat ‘n jaar van krag.
Ek het 6 uittree-annuïteite (ek verwys verder hierna as UA’s) by drie verskillende versekeraars, een het ek reeds laat oordra. Op al die polisse het dieselfde voorgekom, maar vir illustrasiedoeleindes het die volgende gebeur en ek neem een as ‘n voorbeeld. (Ek het steeds die bewyse van my navrae hieroor in Januarie 2002 en die vae onbeduidende verduidelikings sonder dat my vrae direk beantwoord is.)
Ek het bydraes vanaf 1/11/1998 ter waarde van R63 960 gemaak tot en met 01/12/2002. Vanaf 01/08/2001 verlaag ek die premie na R1000 per maand, en R30 733.75 word as kostes verhaal. Op 1/12/2002 maak ek my laaste bydrae van R1000 nadat ek geen bevredigende antwoord kon kry nie, waarna ‘n verdere kosteverhaling van R18 286.45 plaasvind.
R52 559.87 se kostes is dus verhaal en my beleggingsaldo op 1/4/2007 was slegs R10 333.45 na 8 jaar en 6 maande. ‘n Maand later het ek ‘n verdere toewysing van R49 355,07 ontvang op grond van die wysigings in wetgewing genoem in die boonste paragraaf. Ek is egter steeds met R18 192.25 beboet onder die nuwe reëls.
Sowat 4 jaar gelede het ek en enkele van my mede Finansiële Beplanners besluit om effektetrust fondse te begin gebruik as beleggingsvoertuig. Lae risiko fondse soos stabiele en gebalanseerde bate geallokeerde fondse word gebruik en die gebalanseerde fondse het opbrengste van sowat 25% per jaar en meer gelewer terwyl die stabiele portefeulje sowat 15% per jaar en meer gelewer het sedert April 2003. Indien ek toegelaat sou wees om my UA (die R63 960) vanaf April 2003 tot en met April 2007 in hierdie gebalanseerde portefeulje te kon plaas, sou ek nou sowat R156 152.34 gehad het in die spesifieke portefeulje sonder dat ek enige verdere bydraes gemaak het. In kort, die kostestrukture kan ongelooflik goedkoper wees en is vandag die mees aanvaarbare metode internasionaal.
U opsies is op die oomblik die volgende:
1. Versoek u tussenganger om u bestaande beleggingspolisse te evalueer deur u opbrengs tot op datum te bereken en dit te vergelyk met dit wat die res van die mark gebied het oor dieselfde termyn met dieselfde risikoprofiel.
2. U kan u bestaande UA’s nou oordra na ‘n ander UA voordat u 55 jaar bereik, om sodoende beter opbrengste te verdien en veral goedkoper kostestrukture te geniet.
3. Indien u dit na die regte plek oordra, sal u nooit weer vervroegde aftrede boetes, premievermindering – of premiestaking boetes hoef te betaal nie.
4. U kan kwartaallikse vorderingsverslae verwag.
5. Effektetrust word beskerm deur die Wet op Kollektiewe Beleggingsskemas en is heeltemal veilig.