Vandag skryf ek oor die prosesse wat gevolg moet word in Finansiële Beplanning. Hierdie ses stappe vorm die basis van dit wat die Finansiële Beplanningsinstituut van sy lede verwag tydens die Finansiële Beplannings Proses. Selfs die Fiansiële Diensteraad verwag dat volledige rekords van hierdie prosesse bygehou moet word sodat tussengangers aan die Wet op Finansiële Advies en Tussengangersdienste voldoen.
Die eerste stap is om te verneem wat die kliënt verlang en dan ‘n ooreenkoms te bereik in terme van wat aangebied word en ook wat die koste implikasie daarvan vir die kliënt sal wees. Ons moet onthou dat absolute samewerking van die kliënt die sukses hiervan sal bepaal.
Sodra die ooreenkoms bereik is, is die tweede stap om inligting van die kliënt in te win en ook om die kliënt in terme van FICA vereistes te identifiseer. Die kliënt se doelwitte word hier bespreek en ‘n ooreenkoms word bereik. Ek gebruik byvoorbeeld ook ‘n lys van dokumente wat ek van my kliënte vereis om aan my beskikbaar te stel. Daarsonder kan geen beplanning gedoen word nie en dit is ongelukkig so dat die oorgrote meerderheid van kliënte nie hul deel hier doen nie. Hoe swakker die kwaliteit van die inligting, hoe swakker sal die uiteindelike aanbevelings daar uitsien.
Gedurende die derde stap word die kliënt se inligting ontleed om soveel moontlik hulp te verleen aan die kliënt se finansiële en persoonlike doelwitte.
In die vierde stap word die Finansiële Plan word voorberei. Voorstelle en oplossings word vir die kliënt aangebied en bespreek.
In die vyfde stap word daar saam met die kliënt besluit wat geïmplimenteer moet word om die Plan te laat werk sodat die kliënt sy doelwitte kan bereik.
Die sesde en mees belangrikste stap is om die plan en die vordering te monitor. Finansiële beplanning is nie ‘n eenmaal regmaak proses nie. Ek verduidelik dit puntsgewys:
1. Jaarlikse belastingopgawes en Finansiële state (persoonlik, onderneming(s) en trust(s)
2. Jaarlikse hersiening van u Testament en Trustakte(s)
3. Jaarlikse hersiening van u Sakeooreenkomste (Koop-en-Verkoop Ooreenkomste, Sleutelpersoonversekering, Sake Kredietversekering, ens.)
4. Kwartaallikse vorderingsverslae ten opsigte van u beleggings, die hersiening van u beleggingstrategie en die bestuur daarvan.
5. Jaarlikse hersiening van u Boedelbeplanning, Versorging van u gesin by u afsterwe, ongeskiktheid, gevreesde siektes, ens.
Die suksesvolle mense daarbuite het almal ‘n Finansiële Plan, en hulle skroom nie om die plan te verander om by veranderde omstandighede aan te pas nie.
Ek wil u graag laat met die volgende gedagte:
“Small people talk about other people
Average people talk about things
Great people talk about ideas”
Geen idee is onbenullig en onbelangrik nie, dit is wat u met daardie idee maak wat tel. Gaan spreek gerus u Finansiële Beplanner sodat u dadelik kan begin beplan of u bestaande plan kan hersien.